OLOFF DIE SEEROWER REEKS - SIRKEL BOEKE
Oloff die seerower reeks is seerower verhale op sy allerbeste en geskryf deur een van Suid Afrika se meester skrywers van toeka, naamlik Gerrie Radlof. Dit handel kortliks oor Oloff van Wagenaar se vader wat deur 'n seerower met die naam van Ben van Osse doodgeskiet word. Kort tevore het hy vir sy seun in Holland geskryf om vir hom te kom kuier in die Kaap. Omrede Oloff van Wagenaar ook rooi hare en blou oë het en op 'n haar na soos Ben van Osse lyk, word hy van moord op sy vader verdink, want die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap reken sy ma het hom opgesteek om dit te doen, omdat sy vader haar in Holland verlaat het. En net daar begin die verhaal van Oloff, om nie net sy onskuld as voortvlugtige te probeer bewys nie, maar neem hy ook 'n eed dat hy nie sal rus voor hy nie die waterweë van die Ooste bevry het van die seerowereuwel nie.
Hy doen hom voor as een van die berugte seerowers van die ooste, om so toegelaat te word tot die seerowers se nes in Deelenbaai en in die proses kom hy binne bereik van sy vyand se doen en late. Mettertyd skaf hy vir hom twee pragskepe aan, wat se gelyke nie bestaan nie en bevry hy slawe wat toe as bemanning op sy twee pragskepe dien. Oloff self is die kaptein van die skip, Die Seewraak, en Henning Roux die kaptein van sy ander skip, Die Jansje Meer. Heem Beyers en Sias Myburgh is onderskeidelik die kanonniers van die twee skepe. Die vier van hulle is groot vriende en saam durf hulle die berugte seerowerkapteins van die Ooste aan, in die een spanningsvolle verhaal na die volgende. In een verhaal red Oloff vir Rynette du Bois uit die hande van seerowers en om sake bietjie te bemoeilik is daar ook nog 'n ander beeldskone nooi van die Kaap, met die naam van Anna te Hoogen, wat beide om sy hand meeding. Die verhale speel regoor die wêreld af en is propvol aksie, avontuur, drama en spanning.
Gerrie Radlof is vandag nog steeds geen onbekende as dit kom by uitstekende Kaapse en seerower verhale nie en sy boeke bly baie skaars en populêr by oud en jonk. Hy skryf oorspronklik 24 boekies in die betrokke reeks, waarvan net 23 in die tagtigerjare weer uitgegee is. In die Sirkel uitgawes van die tagtiger jare is van die boeke se name en uitgee volgorde foutief. Verder is Gerrie Radlof se van aan die einde ook verkeerdelik met twee f's gespel. Sien gerus "Reeks Boeke Name" vir meer inligting.
1. Die swaardvegter - Gerrie Radlof (1980's) 2. Die seewrak - Gerrie Radlof (1980's)
3. Die skuim van die see - Gerrie Radlof (1980's) 4. Kaptein Oloff - Gerrie Radlof (1980's)
5. Die verraaier - Gerrie Radlof (1980's) 6. Drie vreemde kapers - Gerrie Radlof (1980's)
7. Die losprys - Gerrie Radlof (1980's) 8. Die valk in die kraaines - Gerrie Radlof (1980's)
9. Die spioen - Gerrie Radlof (1980's) 10. Aasvoëls van die see - Gerrie Radlof (1980's)
11. Die swart seemeeu - Gerrie Radlof (1980's) 12. Die vloot van verwoesting - Gerrie Radlof (1980's)
13. Die arm uit die see - Gerrie Radlof (1980's) 14. Die seerower se buit - Gerrie Radlof (1980's)
15. Die blou robyn - Gerrie Radlof (1980's) 16. Die spookskip van Biskaje - Gerrie Radlof (1980's)
17. Die kus van Barbarye - Gerrie Radlof (1980's) 18. Haaie van die Ooste - Gerrie Radlof (1980's)
19. Die skedel - Gerrie Radlof (1980's) 20. Die verslete mantel - Gerrie Radlof (1980's)
21. Die geel draak - Gerrie Radlof (1980's) 22. Slaaf van die vyand - Gerrie Radlof (1980's)
23. Kapers op die kim - Gerrie Radlof (1980's)